Tuesday, August 26, 2008

In Woodstock tier die wind

by Danie Marais

’n week al lank.
Ons dak kraak soos die maste
van ’n ou seilskip in ’n storm
en die wolke maal en mor
oor Tafelberg se rand.
Aan die berg se voet lê die stad
oorbelig en uitgewas
soos ’n ou poskaart.

In Stellenbosch het jou senuwees ingekonk
en jou wil versaak –
oor die telefoon sleep jou tong
en tussen die snot en trane deur
hoor ek nie mooi wat jy probeer sê nie:
wetie & seblief & slaappille & rotgif & drain cleaner
& hospitaal & uitgepomp & ingespuit & jy oukei, ja, oukei
is min of meer al wat ek verstaan …

In Woodstock skeur die wind
gepas
terwyl ek wag vir die telefoon om weer te lui.

As die wind gaan lê
sal dit stil en skoon en leeg wees,
maar terwyl die palmbome stuiptrek
en die telefoondrade skud
is dit moeilik om te glo.

In Woodstock teister die wind my nou
met wetie & slaappille & rotgif & jou groot sagbruin oë
en alles deurmekaar

en êrens lê jy soos my afgekapte hande
in ’n voorlopige lakengraf
en lek verdriet en dooie gebede in jou kussing.

Ek wens ek kon sê ek verstaan nie
hoekom mense in noodweer rotgif & slaappille
en hul onskuldige lywe vol merke sny nie,

maar in Woodstock skryf die stukkende wind
jou wanhoop met wolke
huil jou woede deur die vuil strate en kartonmense

vir iemand om te hoor.

No comments: