Tuesday, August 26, 2008

As die wolk skeur oor Tafelberg

by Danie Marais

"It's coming, keep the car runnning"


The Arcade Fire

Op pad huis toe in die laatmiddagson
op Eastern Boulevard
sien ek ’n watte-wit golf
stadig
oor Tafelberg breek
en teen die krans afspoel.

My ma sê as dit gebeur het
sou sy as kind in Tamboerskloof
op die sypaadjie gaan sit om te kyk
hoe die wille Suidoos die hemel
teen die berg afblaas.
Die prentjie van my ma ¬–
’n dogtertjie van 10 ¬–
wat bang-bang lekkerkry
met haar oë op die berg
laat my na aan haar
en die jaar 1955 voel.

Onafwendbaarheid het ’n vreemde bekoring
as dit soos ’n onstuimige wolk
oor Tafelberg rol.
Jy kyk na die noodwendigheid
van berg en breek
die hopeloosheid
van asem teen klip
die blinde soen
van hemel en aarde
ma en kind
en jy weet hoekom mense nie anders kan
as lag en huil
en vashou en verloor nie.

Jy volg die lyn van die kabelkarretjie
wat in die kolkende wit woeling verdwyn
en jy weet die goeie en die slegte nuus
sal jou altyd weldra bereik
waar ook al jy of jou ma dan is.

No comments: