Wednesday, August 20, 2008

werk toe ry

- Toast Coetzer

die man agter my ry ’n nuwe BMW
’n swart wolf
met ’n blink smile
by die rooi robot
koop hy die Cape Times
die verkoper neem sy munt
maar beduie op die koerant
die prys is op
ek sien sy verbasing terwyl hy
die ekstra 50c uitgrawe
R5,50 vir die Cape Times
what next
he must be thinking

10 000 of 20 000 of 30 000 Cosatu-lede
is veronderstel om die stad vandag te verlam
maar dit lyk nie of dit enigiets
aan die verkeer gedoen het nie

die vrou langs my
eet ontbyt
uit ’n silwer
stainless steel bakkie
agter die stuur van ’n
VW Caddy
sy lyk laat

die Big Issue-verkoper
by wie ek gister gekoop het
(Angelina op die cover)
draf vriendelik nader
en ons groet mekaar deur die oop venster
met toegeklemde vuiste
wat liggies aan mekaar raak
soos mense in 50 Cent videos
met mekaar maak
as hulle homies is

ek hou daarvan om die Big Issue te koop
wanneer ek voor mense in groot SUVs staan
(ek ry ’n Beetle)
dan gee ek die verkoper R20
en sê hy of sy kan maar die change hou
dit het nog nooit die persoon agter my
ook ’n Big Issue laat koop nie

twee ander mans
drentel verby
die een op ’n kruk
die ander met
’n gesnyde half loaf brood
die een trek twee stukke concrete
regop met sy voet
ek sê hello
hulle sê howzit

die lig is groen
en ek draai regs
ek is amper by die werk
die olimpiese spele begin eersdaags
die World AIDS Conference is aan in Mexiko
Aleksandr Solzhenitsyn is dood
my pa is in die hospitaal

ek parkeer ver
van die gebou af
en stap ekstra stadig
oor die vloer van die Foreshore
na die lang koue korwe

selfs as ek my hande opsteek
sou dit nie wys
bo die golwe nie

No comments: